Vrydag 17 April 2020

Kroonprins Gogga se nalatenskap.

En so val die media toe pens en pootjies vir gerugte wat bedoel was om paniek te saai. En die politici klap handjies, krap die media se hare deurmekaar soos 'n tevrede ma met haar laaitjie sou doen, en sê, "mooi so, Jannie!".

So word die media instrumenteel in die bevordering van 'n veel groter dilemma, as wat die paniekowerhede se kroonprins-goggatjie ooit sou kon veroorsaak. En ek glo, die goggatjie bloos bloedrooi, omdat sy laaste bietjie integriteit ten gronde gaan weens disinformasie...

Die draadloos blêr doodspraak. Selfs die goeienuus stasies spreek doodspraak wat hulle goeie nuus, in die skadu stel. So vervang ek selfs my draadloos se batterye met Eveready, want dan sal hy hom dalk beter gedra. Daardie Feng-Pong Supa Power batterye saai net te veel paniek. Maar steeds, teleurstelling. Eveready het in dieselfde slaggat getrap en draadloos blêr steeds net paniekberigte, uur vir uur...

En so, blêr die media oomblik vir oomblik, paniekberigte uit. Luisteraars hoor dit, glo dit voor die voet. So trap hulle verder in die vernietigende strik van selfdestruksie. En lucifer glimlag. Hy en sy goggatjie-genote, kry dit reg om sonder skoot of slag, selfs wedergeborenes se vreugde te steel.

So slaan ons die geboorte van 'n nuwe paniek-nasie gade. Word selfs ewe trots, deel daarvan. Dra sommer ook die nuwe staatslogo ewe trots oor ons gesigte, waar almal dit kan sien.

Maar in ons spreekkamers, fisies en digitaal, begin 'n nuwe kommerwekkende vloed. Waar depressie en selfmoordneigings vroëer 'n klein deel van konsultasie was, stroom dit nou deur die dak soos asof die kantoor, 'n makuku in Gamorro nedersetting tydens 'n storm is. En naasbestaandes van suksesvolle selfmoordgevalle, sit in sak en as met geboë hoofde, en vra, waarom? Dáárdie een nagmerrie-vraag, waaroor geen terapeut, ooit opgewonde raak nie

Deel gerus in 'n paar syfers: Op dié tydstip toe 'n bepaalde streek, ewe paniekerig aangekondig het dat hulle al sewe sterftes, wat na bewering deur die kroonprins-goggatjie veroorsaak is, aangeteken het, is die publiek-onaangetekende statistiek vir selfmoordpogings in slegs een organisasie se konsultasiekamers, reeds amper veertig. Met, slegs dit wat ons van weet, reeds nege suksesvolle pogings wat direk aan gogga-verwante depressie en paniek gekoppel kan word. En die naasbestaanbestaandes word eksponensiël meer... Dan is daar nog ander selfmoordkandidate en suksesvolle pogings, wat nie direk aan Prins Gogga gekoppel kan word nie, maar wat meteens 'n kommerwekkende styging toon, wat maar net die denkende mens, kan laat wonder.

Die brawe boetas onder ons spog ewe trots dat hulle sterk is en nie depresief kan raak nie. Maar vanaand wanneer Rambo sy deur toetrek, sak sy kop en sug (of vloek) hy en sukkel om aan die slaap te raak, en skenk só, geboorte aan diep, donker gedagtes. En 'n paar dae later, treur nóg 'n familie.

Hoe gebeur dit?

Elke mens, sonder uitsondering, het diepliggende smagting na waarde. Ons is geskep as denkende mense. Intelek, as positiewe entiteit, kom egter saam met die vermoë om te analiseer. Hetsy bewustelik, of onbewustelik. Die analise masjien in menige breine is egter weens verskeie kulturele en sosiale oorsake, dikwels negatief geprogrammeer. Die mensdom het weens 'n kritiese gemeenskap en die sogenaamde helende van "kritiese denke", die vermoë om in ander gebiede steeds positief te funksioneer, verloor. En dan woel daar 'n konglomoraat duistere denke, wat dikwels die laaste hoop plattrap met 'n gewetenlose paniek-stewel.

Verder, het die mens die vermoë én behoefte om, synde 'n inteligente wese, sy besluitneming self te neem. Om hierdie gawe te benut, en so orde in die eie lewe en geliefdes se lewe te skep en te koester, skep eiewaarde. Meteens kom 'n besluit wat die indruk skep dat die eie inteligensie substandaard is. Die ervaring dat enkele besluitnemers, wat die individu se inteligensie ontken, nou namens die "denkelose", besluite sou neem. Hierdie ervaring is een van die groter oorsake van depressie. Selfs by Rambo en Doringdraad Dottie, oor wie ons in 'n vorige paragraaf gesels het, tref hierdie hou hard. So ontstaan 'n depressie. Hierdie depressie word verder gevoed deur 'n paniek-behepte media, en die depressie, word steeds al hoe donkerder.

Omdat die westerse kultuur tot 'n groot mate op kapitalistiese denke gebasseer is, word die beperking van inteligente denke, aangevuur deur die beperking op ekonomiese aktiwiteite, die impuls wat tot vrees vir die onvermoë om lewensmiddele te bekom. Die verdere vrees vir die verlies van besittings weens 'n fiskale tekort, is vir baie vreesaanjaend. Die onvermoë om iets positief te kan doen om hierdie denk-dilemmas te hanteer, lei tot 'n gevoel van magteloosheid. Die vrees om in 'n gemeenskap waar die voorsieningsrol van 'n pa voorop staan, nie meer te kan voorsien nie, of waar 'n ouer alleen een of meer kinders moet onderhou, skep 'n illusie van nutteloosheid, en nooi dan vir depressie in. Die gevolglike destruktiewe invloed op die gees en psige, is voor die hand liggend.

Daar is 'n segment van die bevolking wat wat baie fokus op hulle liggame en fiksheid. Om in voorkoms vleiend te wees, vir watter rede ookal, is preoriteit, soms selfs obsessie. Beweging is 'n kern-element in die verkryging en behoud van hierdie liggaamsvorm. Liggaamlike fiksheid is vir veral mense wat hande-arbeid verrig, preoriteit. Die proffesionele sportlui, maak weer staat op hulle fiksheid en skerpheid, wat slegs deur oefening verkry en behou word, om hulle gemoedskalmte te voed dat hulle liggaamstoestand en gevolglike fiskale waarborg, veilig is. Nou word hierdie beweging beperk. Die obsessie om ten alle koste in 'n prima liggaamlike staat te wees, is skielik nie meer uitvoerbaar nie. Vrese oor fisiese degenerasie, die taan van die fiksheidsvlak en die vrees dat hulle na hierdie episode, nie meer die span sal haal nie, of dalk ernstige sportbeserings mag opdoen, voed onbewustelik magteloosheid, depressie, en die gevolglike destruksie. En so, kom Rambo se gees ook tot 'n val.

'n Groot deel van ons bevolking is opvoeders. Hulle met die edel roeping om ons kroos toe te rus met kennis sodat hulle 'n toekoms kan hê. Gestuurdes wat daagliks in kontak is met hulle, vir wie hulle geroep is om te begelei na 'n beter lewe. En meteens, word hulle gestroop van hierdie lewegewende kontak. Geen digitale kontak, kan opmaak vir die interaktiewe van spraak, lyftaal, gesigs-emosie en die aanblik van vreugde, as die leerling iets begryp nie. 'n Geroepene, afgesny van hulle, teenoor wie hulle geroep is. Die gevolglike gevoel van nutteloosheid en depressie, skep 'n gees van destruksie, wat reeds in een maand, twee opvoeders geëis het.

Die geestelike versorging van mense ly erge skade. Werklik stukkende en soekende geeste word geïsoleer van hulle geloofsgemeenskap. Dit skep geloofskrissise. Dit maak dat die hoop wat vele jong wedergeborenes het, in hul gees taan, want hulle is nog op melkkos en het begeleiding broodnodig. En as hoop taan, slaan die swart hond sy tande in, en eis geeste, eis lewens.

Kreatiewe mense is sensitief. Met rede. As hulle nie sensitief was nie, sou hulle nie hulle gehoor se kreatiewe behoeftes so mooi kon kon lees, en met die uitoefening van hulle talente, 'n produk daar kon stel wat esteties vleiend is nie. Daardie samesyn in die teater of om die vuurhert, kan nooit geëwenaar word deur digitale afstand-konserte nie. En as sensitiewe gees, tree depressie en destruksie soveel makliker in.

Vele meer scenaria kan geskets word. Hierdie enkele voorbeelde uit die praktyk self, behoort reeds 'n geheelprentjie te skep. Laat ons dus bogenoemde scenaria neem, en die deurslaggewende faktor, naamlik paniek, byvoeg. Die media spoeg so gereeld geselekteerde statistiek uit. Daardie statistiek, wat instrumenteel moet wees om die luisteraar en leser met vrees en paniek te vul, sodat hulle binne sekere lyne sou bly. 'n Poging om denkende mense, se inteligensie te onderskat en deur vrees, hulle "gehoorsaam" te probeer hou. As jy nie hierdie en daardie riglyn nakom nie, sal jy allerlei vreesaanjaende dinge oorkom... Ongelukkig glo so baie slagoffers van die hoofstroom-media hierdie propaganda, en verval in paniek, bygevoeg tot die depressie wat reeds weens die faktore soos enkele pargarawe gelede, bespreek is. En die resultaat, 'n nagmerrie vir geestesgesondheid.

Terwyl die gees ledig is, begin die media eers subtiel, vrees saai. Berigte oor die fataliteit van die Prins Gogga, sluip tydens die eerste nuusberigte deur. Stadig maar seker, word meer en meer lugtyd aan die dingetjie gegee. En kort voor lank, is selfs goeienuus stasies soos Radiokansel se nuusbulitins deurspek en besoedel met panieksaaiende berigte. Tel dus nou die volgende mooi op: Verveeldheid en onderliggende depressie, maak dat die ledige gees ontvanklik is vir panieksaaiende.  So, kry die panieksaad 'n goed voorbereide land om in te ontkiem. Soos wat mediaberigte subtiel, al hoe meer paniek saai, kom volskaalse depressie na vore. Dan kos dit net een negatiewe prikkel, om te ontwikkel in 'n selfmoordpoging.

Sterftes wat na bewering verband hou met die goggatjie, word wyd en syd uit geblêr. Getalle, wat in vergelyking met die erge toename in geestes-diagnoses, klein is. Sterftes aan eie hand, wat meer is as wat beweer word, deur die goggatjie geëis word. Siele wat verlore gaan, omdat hulle nie kan glo dat 'n God van liefde, so 'n situasie sou toelaat nie.

Lank nadat die gogga-paniek gaan lê het, gaan terapeute steeds met hierdie, verswygde nagevolge oorval word. Maar dit is mos nie sensasioneel nie. Die hoop dat beriggewing daaroor, dit makliker sal maak, 'n blote ilusie.

Laat die duisende kitskenners oor elke denkbare onderwerp maar hulle paniekwoorde uitbraak op die lug en op sosiale media. Superslimmes sal daar maar altyd wees. Jy gaan hulle nie stil kry nie. Maar jy, en elkeen wat lewe kies, kan egter meer lewens red, deur nie net doodsgesprekke te ontmoedig nie, maar jouself aktief te weerhou daarvan.

Gaan jy nou saam begin lewe spreek en lewens red, of gaan jou aanhou met jou doodspraak en so ook, fisiese dood veroorsaak?

Wel te ruste, as jy kan...

Sela.

© Stof 2020/04/06

2 opmerkings: