Sondag 11 Januarie 2015

Domein-kopkrappers...

Kwelvrae oor domeinregistrasie en domein-instandhouding
Tot nou onlangs is alle co.za domeine deur Uniforum geadministreer. Dit het sake maklik gemaak, want Uniforum het ‘n betroubare domeinbestuurstelsel waar die belanghebbers domeine met gemak kon skep, aanpas en instandhouding op die inligting doen. Deur bloot ‘n versoek in ‘n bepaalde formaat as teksgebasseerde epos te stuur, kon hierdie take met gemak verrig word. Domeinhouers wat steeds Uniforum se registrasie platvorm gebruik, het steeds hierdie voordele.
Dit is goed dat ander instansies ook ‘n gelyke kans gekry het om domeine te administreer. Dit het die gevoel van monopolie wat vir sommige rolspelers steurend was, verlig.
Die probleem wat egter daarmee saam ontstaan het, is die gebrek aan ‘n suksesvol werkende koppelvlak met die domein-eienaars. Menige van hierdie onafhanklike registrateurs het geen domein-kaartjiestelsel waarmee instandhouding deur die eienaar bestuur kan word nie. Sopas weer het die piramide van subkontrakteurs en die totale gebrek aan kommunikasie tussen die verskillende rolspelers, ‘n reuse probleem geskep met iets so eenvoudig soos om ‘n domein se wysers te wysig na ‘n ander bediener. Iets wat met die Uniforum kaartjiestelsel, binne minute gedoen kon wees.
Vrae wat gevra word, is die volgende:
- As ‘n persoon of instansie as onafhanklike registrateur registreer, word daar nagegaan of hulle oor die infrastruktuur en die gebruikersvriendelike stelsels beskik om die diens ‘n aangename en effektiewe ervaring vir die die klant te maak?
- Vanuit die ervaring waarna vroeĆ«r verwys is, is daar ‘n gestandardiseerde gebruikersvriendelike stelsel soos wat Uniforum het, om domeininstandhouding van domeine wat deur onafhanklikes bestuur word is, in stand te hou? Indien wel, waarom word die stelsel nie op een van die onafhanklikes se webwerwe as skakel vertoon nie?
- Om ‘n domein van registrateur te laat verwissel, blyk ‘n pynlike ervaring te wees. Selfs al sou dit by dieselfde registrateur geregistreer bly, bly dit ‘n nagmerrie om iets eenvoudig soos ‘n wyser aan te pas. Wie kan hier adviseer oor ‘n gestandardiseerde metode om hierdie instandhouding, pynloos te kan hanteer?
- Terwyl domeine nou ter sprake is, wat betref die primere domeinregistrateurs vir ander domeine soos net, nl, zw, biz, com en ‘n verskeidenheid ander, wie is elk van genoemde stelsels se primere registrateur? Iewers moet daar seker ‘n sentrale databasis wees wat deur een verantwoordelike instansie bestuur word?
Daarom is hierdie ope vrae nou publiek gestel, met die geleentheid aan enige respondent om’n verantwoordelike inset te lewer.
Ek nooi veral die volgende rolspelers om hier ‘n sinvolle inset te lewer en met korrekte inligting te help:
- Uniforum, as die bewese staatmaker in die bedryf.
- Redcactus, wat werklik die gewaardeerde tweede myl saam met hulle klante stap met hulle omgee diens.
- Hostcow, wat te midde van enkele tegniese uitdagings in die verlede, altyd hulle beste doen om klante se belange te dien.
- Rudi, die gewaardeerde staatmaker by Equadoor, wat self die afgelope tyd met veral een transaksie, in die middel van ander se onbekwaamheid beland het.
- Registerdomain.co.za, met wie kommunikasie herhaalde kere glad nie kon vlot nie en wat tot ernstige verleentheidskeppende vertragings gelei het.
- Easypay.co.za, wat byna vriendskapverhoudings verongeluk het met hulle totale ignorering van kommuikasie in die verband. En ook die vraag aan easypay: Hoe is dit dat ‘n webwerfmaatskappy se eie webwerf self nie met inhoud gelaai is nie?
- Enige ander registrateur wat ‘n sinvolle en ingeligte inset kan lewer.
- Enige webklant, webmeester of webtegnikus wat ‘n mening of inligting oor hierdie saak het.
Dankie vir elkeen wat ‘n sinvolle inset kan lewer. Laat ons vertrou na hierdie gesprek, is al die onsekerhede en diskrepansies uit die weg geruim.

3 opmerkings:

  1. Indien jy om tegniese redes nie instaat is om hier kommentaar te lewer nie, stuur 'n epos met jou inset na domeinvrae@stof.co.za en dit sal geplaas word as dit van toepassing is. Jou inset is egter kosbaar, moenie net swyg as jy deel van die oplossing kan wees nie. Baie mense vra hierdie dinge.

    AntwoordVee uit
  2. Hierdie opmerking is deur die outeur verwyder.

    AntwoordVee uit
  3. Van almal wat uitgenooi is ingeligde insette te lewer, het slegs Red Cactus gereageer. Dankie vir 'n insiggewense konsultasie en inligtingsessie daaroor. Stof reken dus dit is veilig om te aanvaar dat die ander rolspelers wat om 'n inset gevra is, nie instaat is tot 'n ingeligde inset nie, of so min omgee vir hul gelykgeskape medeskepsels dat hul nie deel van die oplossing wil wees nie...

    AntwoordVee uit