Woensdag 11 September 2019

Gerrit

Die werk van 'n herder is om daar te wees as een van sy gelykgeskape medeskepsels in nood verkeer. Om saam met hierdie boetie of sussie voor Pa te kniel en wysheid te soek. Deel daarvan, is die voorreg om so dikwels ook die wonderbaarlike uitkomste van hierdie saamstem, te sien en te beleef.

Om te dien, eis dikwels ook sy tol. Daarom het elke herder, ook diegene om hom of haar nodig wat die herder deurdra.

Een van diegene is Gerrit. Iemand wat al 'n lang pad saam met Stof stap. Iemand wat deur die Universiteit van die lewe, ook getemper, geleer en voorberei is om 'n ware medemens vir 'n ander te wees. Soms fluister ons Vader in dié wat geroep is om 'n verskil in ander se lewe te maak, om 'n boetie wat moeg is, te nooi vir 'n wegbreek.

So beland Stof mos een middag op hierdie manier, op Gerrit se hoewe vir 'n braaivleis. In gehoorsaamheid aan Pa se fluistering in sy oor dat Stof flenters is, het hy hierdie uitnodiging gerig. Saam, voor 'n afgetrede velling, gevul met kole wat 'n paar stukke wors keurig skroei tot 'n aangename vooruitsig, begin 'n moë gees ontspan. Teen die tyd dat die wors en die heerlike verrassings wat daarmee saam gekom het, genuttig is, loop die gesprek lang draaie deur die lewe. Daar word saam gelag, gehuil, gebid, en getuig oor al die mooi dinge wat Pa oor ons lewens bring.Skemer het te gou gekom. Huiswaarts keer was egter maklik. 'n Ligte hart en hernude krag, het hierdie keer saamgery.

Dankie aan Gerrit, en al die ander engele wat soos hy sensitief is vir Pa se influistering, dat hulle dié is wat so dikwels, die wêreld nog bymekaarhou. Mag elkeen van hulle, 'n groot seën ontvang. Groter selfs, as die seën wat hulle is vir ander.


Mag elke leser hierdeur gestem word tot sensitiwiteit vir Pa se stem. Dalk is jy net, die volgende engel wat geroep is om 'n verskil te gaan maak in iemand se lewe. So word elke leser ook toegewens, engele in sy of haar lewe, wat soos Gerrit, ook hulle lewens wil verryk tot die vervulling wat dit veronderstel is om te wees.


© Stof 2011/05/28

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking