Saterdag 22 Augustus 2020

Hermoniade

'n Hermoniade

'n Wyle gelede word 'n nasaat van 'n inwoner, weggewys by Huis Hermon. Sommer so op 'n blatante wyse. Nee, hy is mos 'n ongewensde persoon. So verklaar deur 'n bestuur wat onder die invloed is van 'n familielid wat die nasaat met passie verag. 'n Persoon wat op een of ander wyse sy verdraaide persepsies subtiel ingekonkel het in die naiewe denke van die bestuur. Hy het hulle oortuig dat hy alleen kopiéreg op ouers besit en dat geen ander nasaat, waardig is om omgee aan hulle te toon nie.

Onder die irassionele hoop dat dit enigsins 'n verskil sal maak, vra die ongewensde nasaat toe maar 'n kennis wat 'n nagsuster is by Hermon, om te gaan uitsnuffel wat brou in die diep donker duister hermoniaanse kookpot. Geen reaksie nie. Die navraag raak verlore in die borrels van die groen brousel wat in die pot borrel. Op 'n volgende geleentheid stuur die gewaardeerde sussie wat nagskof werk, 'n skermbeeld van 'n boodskap, wat 'n bestuurslid beweer, 'n wyle gelede vir die ongewensde gestuur is. Maar, dit is glad nie eers aan die regte persoon geadresseer nie. Sommer by die aanspreek, is dit reeds die naam van 'n ander persoon...

Enkele maande later bereik 'n berig die ongewensde nasaat met 'n ompad, dat sy pa na bewering oorlede is. Met die oproep na die kantoor om die gerug te probeer bevestig, word die ongewensde ewe afgejak en meegedeel dat inligting nie aan buitestaanders verskaf word nie. Dus, 'n ouer se eie kind, is nou skielik 'n buitestaander...

Eish! Of vir die lesers wat hulself as verhewe bo ons klas beskou: Touche...

En stadig maar seker, begin 'n skoefdraad subtiel skade opdoen...

Die gerug word uiteindelik bevestig deur 'n ander, wat (nog) nie as ongewens beskou word nie. Dankie Stefan, jy is waarlik 'n lig in my lewe.

En nog steeds, word die ongewensde uitgesluit, met passie verdryf en weerhou daarvan om maar net syouers se laaitie te wees.

Hierdie hermoniade dien vele doele:

-

Dit dien as uitlaatklep vir 'n "ongewensde".


-

Dit dien as ope brief aan die hermoniaanse bestuur met die hoop dat tonneldenke tog, per wonderwerk, eendag sal wyk.


-

Dit dien as waarskuwing aan narciste wie se geliefdes nog na die vlees met ons is, om twee keer te dink voordat hulle besluit wie is gewens en wie is ongewens en om tehuis-besture te weerhou om ander te gewetenloos te intimideer om verwronge wanpersepsies, as hulle eie te koester en blindelings toe te pas.


-

Dit dien as broederlike vermaning aan amptenare wat oorde bestuur, om nie toe te laat dat nasate wat fiskaal sterk is, hulle beïnvloed om deel te word van die heksejag teen hulle wat deur 'n enkele narcis, as ongewens beskou word nie.


-

Dit dien as 'n boodskap aan ouers wat vasgevang is in hermoniaanse gevangenisse, om besef dat die ander nasate, steeds opreg vir hulle omgee, maar op wrede wyse weerhou word om dit oor te dra. Dat hulle nooit moet dink dat die ongewensde faktore, nie waarlik en opreg vir hulle omgee nie.


-

Dit dien as 'n navraag aan die Hervormde Kerk, wie se herder so ewe die intimideerder se bevooroordelende en hatige persepsie kondoneer en verdedig. Dit laat vrae oor die Hervormde Kerk se ware visie en misie. Hierdie optrede laat ernstige bedenkinge oor die egtheid van hulle bewering dat hulle 'n Evangeliese instelling sou wees.


-

Dit dien as 'n boodskap aan ander ongewensdes, dat Vader Yahwe hulle nooit sal versaak of verag nie, en dat hierdie gemoedsrus, 'n ewigheid meer se waarheid dra, as die eiegeregtige persepsie van 'n enkele narcistiese fiskusverslaafde of naiewe en beïnvloedbare bestuur.


Ter afsluiting:

"Elke mens (en bestuur) het 'n vrye keuse met watter kant van sy rugstring hy dink. Ongelukkig maak ons almal, nie dieselfde keuse nie..." (Uit Psigoët, deur Stof, 2004)

Deur vele veräg, die uwe.

3 opmerkings:

  1. Hierdie opmerking is deur die outeur verwyder.

    AntwoordVee uit
  2. Hermon, is julle nou gelukkig? Na vanoggend is beide my ouers nou oorlede. Geniet julle die fooitjie wat julle ontvang het om my en my kinders uit te sluit?

    AntwoordVee uit
  3. Ek was ook met n narcis deurmekaar. Hulle is gevoeloos, gewetenloos en speel op jou gevoel om hulle sin te kry

    AntwoordVee uit