'n Eenvoudige ingang na 'n gebou wat van buite af, na weinig lyk. Die roesemoes van 'n besige stedelike straat. In die agtergrond 'n menigte uiteenlopende besighede op die straatfront. Besighede wat kompeteer om elkeen sy eie produkte en dienste op die mees opvallende wyse, te probeer uitskreeu.
Paranoiese mense wat soos hulle loop, oor hulle skouers loer en elke vebyganger wantrou, beweeg in elke denkbare rigting. Elkeen se gedagtes gerig of op 'n doel, of, te oordeel na lyftaal en gesigsuitdrukkings, bekommernis koester en toelaat dat dit hulle hele wese oorneem. Dan draai ek weer om, en betree die smal dubbeldeurtjie wat my inlaat in 'n eenvoudige portaal met klassieke ligte uit jare, toeka reeds vergaan. Na regs is 'n stel trappe, breë houtrappe wat nie 'n hele vlak styg nie, maar na 'n tussenvlak lei waar daar enkele boekrakke, en 'n bankie of twee staan. In die boekrakke, enkele boeke wat uiteenlopende onderwerpe dek, sonder dat dit enige spesifieke ordepatroon volg.
Na links styg 'n stel breë stel trappe in klasieke styl, nog 'n halwe vlak. Dit maak 'n nuwe wonderwêreld oor van kennis. Boekrakke wat van die vloer, tot bo teen die hoë dak strek, staan vol kennis en wink.
Dan ontwaak in my, 'n intense waarnemingsvermoë en smagting om daardie kennis in te drink, boek vir boek, blaai vir blaai. Die saal met boekrakke met derduisende boeke, is egter baie groter as wat menslike intelek kan inneem.
Op reis deur die rye en rye plafonhoë rakke met die waarneembare reuk van kennis wat smag om opgeneem te word, kom ek in een van die hoeke van hierdie boekesaal, is 'n enkeldeur wat oopstaan.
Soos wat ek deur die enkeldeur stap, is daar verskeie kleiner vertrekke. Funksionele vertrekke. In die adminsitratiewe kantoor, is alles wat nodig is om administratiewe orde soomloos te handhaaf. Die nodige toerusting wat nodig is om dit te doen, is alles daar, en in perfek werkende toestand.
'n Ander vertrek in hierdie gang, is 'n klein, maar funksionele kombuis. Alles wat nodig is om die liggaamlike te voed en gehidreerd te hou, is daar. Daar is 'n paar soorte koffies, bruinsuiker, witsuiker, verromer en selfs vars volroommelk in 'n yskas. Ook in die yskas, is daar klein, maar aangename snoephappies en lekkernye wat op 'n sny brood of twee gesmeer kan word. In 'n kassie met 'n roldeurtjie, is vars gesnyde brood. Langs die kassie, staan daar twee bokse, met twee soorte Ouma-beskuit. 'n Klein rakkie met enkele bekers en 'n koekbordjie of ses, en 'n paar teelepels wat in 'n blikhouertjie staan, asook nekele messe en vurke, maak dit moontlik om die koffie en snoeperye te kan geniet. 'n Wasbak met 'n bottel groen skottelgoedseep, en 'n sponsie of twee, voltooi die prentjie. Daar is selfs 'n klein waterverhitter in die hoek van die kombuisie, wat water kitsverhit wanneer warm water nodig is.
Langs hierdie kombuis, is 'n ablusiegeriefie. In hierdie kamertjie is 'n toilet, 'n wasbak met 'n spieël wat op ooghoogte pryk, en 'n klein kassie met ekstra seep en toiletpapier. Oppad terug met hierdie gangetjie, stap ek weer deur die enkeldeur in die boekerij in.
Die grootheid van die derduisende boeke se kennis wink my nader, rak vir rak, boek vir boek. Tog, ondanks die grootheid en ontelbaarheid wan al die kennis wat daar vervat is, nie intimiderend nie. Ek voel nie asof dit my oorval nie, selfs al is dit veels te veel kennis, vir een mens om in 'n leeftyd te versamel. Die kennis en wysheid daarin vervat, noop my om tussen die dosyne rye gestapelde kennis, my weg te vind. Die smagting om daardie kennis in te drink, dringend voelbaar. Die reis deur hierdie opgestapelde kennis bring my by antieke boeke met Woordkennis en Bybelverklarings wat lank vergete was. Bybels, in vele tale en winkend om hulle goeie Nuus te deel met lesers, staan rakke en rakke vol. Daar is nog rakke, gevul met massas taalboeke. Boeke oor Hebreeus, Sumeries, Grieks, Nederlands en Pedi. Daar is selfs massas boeke oor die straattaal wat in Afrika springlewendig is. Daar is musiekboeke, met bladmusiek, boeke oor musiekteorie, oor snaarinstrumente, en oor klawerinstrumente. Dit wissel van historiese oorsigte oor taal en musiek, tot praktiese gidse oor hoe om taal en musiek-instrument, tot harmonie te bring en die skeppingsdrang wat Vader in my geprogrammeer het, ten volle te vervul.
'n Gerusstellende gemak met hierdie kennis vervul my en smagting om dit ten volle en moeiteloos op te neem. Beelde van hoe hierdie kennis aangewend kan word as ek dit alles eers opgespons het, draaiboek deur my denke en skep aangename beelde van diensbaarheid wat uit die aanwending van hierdie kennis en vaardighede, kan uitspruit.
My reis deur die rakke neem my na 'n ander hoek. Soort van ongeörden. Die reuk van hierdie boeke is nie aantreklik nie. Dit is nie die reuk van kennis nie, maar van muf. Dit is 'n reuk wat grynslag soos wat dit die nutteloosheid van hierdie boeke se kennis, probeer verskans met 'n vals balsemreuk. Die rakke is makoliekig en sommige dreig om om te val. Sommige het al omgeval. Op 'n vreemd, sadistiese manier probeer hierdie rakke my verlei om die konglomoraat van destruktiewe kennis wat daar vervat is, in te neem.
En soos wat ek hierdie verleiding aanskou, besluit ek om lewe te spreek. Ek besluit om destruktiewe tye en impuse wat jare uit my bestaan gesteel het, te weier. Ek draai om. Soos wat ek wegstap tussen die ander rakke van waarheid en wysheid in, hoor ek 'n gerammel. Ek kyk weer om. Maar, ek word nie 'n soutpilaar nie. Daar is 'n steenmuur tussen my en die lewegewende rakke, en die afdeling, wat my nie kon verlei nie. Die destruktiewe boeke is nie meer toeganklik nie. Die slinkse verleier lucifer het gevlug en sy verleiding en vals beloftes het neus eerste in die pad geduik.
Dan staan ek tussen hierdie massas kennis, en begin hierdie kennis in my in te vloei. Moeiteloos, sonder pynlike leerprosesse. Dalk, omdat die leerprosesse wat my moes voorberei op hierdie bron van kennis en diensbaarheid, reeds deurleef is in 'n paar jaar, waar lewenswysheid en lesse, nie noodwendig maklik was nie, maar waar ek krag ontvang het, om dit te kon dra ter voorbereiding van hierdie era van dien, wat nou voor my lê.
Nou begin hierdie ervaring sin te maak. Insigte oor waar die ervaring in hierdie gebou vol boekskatte vandag kom en wat dit beteken, spoel deur my denke en maak my opnuut dankbaar vir openbarings soos hierdie. Ek staan op die straat, tussen die geroesemoes en die wantroue van soveel mense. Die versoeking om deel daarvan te word, probeer my verlei. Maar die onaansienlike deurtjie, waarby almal verbyloop omdat dit nie by hulle status sou pas nie, trek my. En dan, die onverwagte skat daarbinne. So, strewe ons so dikwels na wat op die oppervlak glansryk is, dat ons nie nie die stowwerige klein deurtjies raaksien nie omdat ons dink dit is benede ons. Maar wanneer ons vra vir Vader om ons te seën, maak Hy ons oë oop vir dit, wat werklik van belang is. Dalk selfs, het Hy 'n plan dat dié dinge, nie moet glansryk lyk nie, want dan sou die glans-sweine dit onder hulle pote vertrap het. Maar Hy maak ons wat Hom soek, se oë oop vir waar die ware skatte lê.
Dan toets Hy ons. Ons stap nie dadelik in, in die rykdom van Sy wysheid in nie, Ons stap eers deur 'n klein portaaltjie wat op die oog af, lyk na 'n vermorsing van ruimte. Vierkante meters wat beter benut kon word. Selfs hier, sal van ons omdraai en besluit hierdie eenvoud en onglans, is nie vir ons nie. Maar vir hulle wat Hy liefhet, wys Hy die trappe op die regterkant, en nooi ons in na 'n voorsmakie van wat Hy vir ons in stoor het. Hy laat ons dan vertoef in die tussenvlak, met net 'n paar boeke op die rakke. 'n Voorsmakie, wat die grootheid wat Hy vir ons in stoor het. Asof Hy my uitdaag, is jy gereed om die oorvloed wat Ek vir jou in stoor het, met albei hande aan te gryp.
Sodra ons die toets geslaag het om tevrede te wees met die eenvoudige nederigheid van die tussenvlak, en Hy kan met sekerheid weet Hy kan ons met meer vertrou, maak Hy ons oë oop vir die trappe wat na die groot saal toe lei.
Daar, in die groot saal van Sy onbeperkte kennis, wys Hy vir my hoe Hy my kennis wil restoureer. Kennis wat na jare se afskeep daarvan, verlore kon raak. Kennis, wat dalk verskuil lê in die onderbewuste. Hy wys my dat die brein se luiheid om nou weer aktief in te neem, deur Homself genees kan word. Hy wys dat die kennis wat ek gedink het weg is, herwin sal word. Ook, dat kennis wat nie volledig is nie, aangevul sal word. Hy neem mydeur die rakke vol Bybels, en wys my dat my gebrekige Woordkennis, aangevul sal word. Soos wat ons deur die taalrakke beweeg, sien my geestesoog hoedat ek, wat lief is om met tale te speel, daarna smag om nie hierdie tale net ten dele nie, maar volkome te mag bemeester, dag tot dag, te kan gebruik.
Ek en Vader se saamstap deur die musiekrakke, troos my in die wete dat dit Sy wil is om my bietjie musiekkennis en beperkte vaardighede op kitaar en klawers, te wil aanspreek. Daar waar, soos met die Woordrakke en die taalrakke, tyd nou teen die formele en konvensionele manier van studie en oefen tel. Hy verseker my dat Hy my sal seën met kennisinspuitings, vaardigheidsinspuitings. Dat Hy my verlange om hierdie dinge weer te herwin en te ontwikkel tot werklik sinvol bruikbaar, selfs perfeksie, raakgesien het en nou ja gesê het daarop.
Dan weet ek ook, dat Hy die geleenthede om hierdie huidige kennis en voorregte waarmee Hy my alreeds geseën het, tesame met hierdie nuwe kennis en vaardighede, my deure sal oopmaak om al hierdie dinge, ten volle te kan benut om tot Sy eer te mag dien. Om daar waar ek ook my menslike psige moet voed, ook van hierdie kennis en vaardighede gebruik te mag maak om te peuter aan 'n paar snare en klawers en kreatiwiteit weer te ontwikkel na 'n punt, waar dit met trots aangewend kan word.
Dan meteens, ervaar die liggaam eg menslike behoeftes. Honger, en die behoefte om die liggaam ook op gereelde basis, te reinig van onsuiwerhede, roep. Dan wys Hy my daardie diensgangetjie. Die kombuis, die ablusiegeriewe. Maar ook die administratiewe kantoor. En so, met insig wat net 'n volmaakte liefhebbende Vader het, wys Hy dat Hy ook in ons aardse dimensie wil voorsien, vir solank soos wat dit Hom behaag om ons nog hier te huisves.
Die stappie na die bedompige hoek, daar waar die boeke slordig en die rakke mankoliekig is, is soos 'n laaste groet aan die dinge, wat soos 'n Egipte van ouds, dinge uit ons verlede gebruik om ons Godgegewe potensiaal, te probeer steel. Dinge, tye en mense, wat ons beroof het van ons geestelike welstand, ons psigiese welstand, ons materieële bronne. Hy maak my oë oop vir die destruktiewe wat hierdie dinge, tye en mense in my lewe gebring het. En dan herhinder Hy my aan my vele gebede aan Hom, om hierdie Egipteland uit my bewuste en onderbewuste geheue te wis. Met die belofte, jou gebed is verhoor. Die muur wat daardie boeke verskans, is nou gebou. Net soos wat ek op Goddelike wyse, jou sal aanvul met die kennis en vaardighede wat jy op al die ander terreine gevra het, sal ek hierdie doodsfaktore en die herhinderinge daaraan, uit jou geheue wis. En oor 'n tydjie van nou af, sal jy dit nie eers meer kan herroep nie.
Meteens die wete, dat Hy my vandag op sigbare wyse deur hierdie visioen geneem het, met die belofte, dat Hy al hierdie dinge vir my sal laat toekom.
Dan, in diepe dank vir Sy sigbare belofte en 'n reis deur die boekerij, loof ek hom vir die perseel, die bronne, die kennis, die gawes en die insig, om van hier af vorentoe, sonder kommer, te mag dien, daar waar Hy my geroep het.
Soli Deo Gloria.
© Stof 2020/11/16