Vrydag 22 Mei 2020

Aanbidding is nie 'n voortrekker spanbyeenkoms nie

Die meeste van ons het waarskynlik kleintyd met die Voortrekkers geëksperimenteer. Sommige vir 'n tydjie, ander vir 'n leeftyd. Goeie, gesonde tydverdryf. Tannie Emsie Schoeman, Dok Eddie van Zijl, Dok Murray Jansen en selfs Dok Ruth, sal daarmee saamstem.

Die byeenkomste het min of meer dieselfde patroon gevolg. Neef spanleier is op gepasde wyse gegroet. Dan, het ons die Stem gesing. Na die stem, het ons geleer hoe om nog 'n knoop te knoop. (Met 'n tou, nie die tong nie...). Dan het ons 'n lesing gekry van die trek oor die Drakensberge. Sodra ons dan nou mooi geleer het watter roete is die beste om met 'n span osse en 'n wa oor die berg te kom sonder té veel pap wiele, het Neef Leier se vrou die Oros en tuisgebakte koeksisters uitgebring en het ons as drinkebroers, so suig-suig aan die lekker stroperinge koeksisters, gesels oor die volgende kamp en ons verwagtinge daaroor. Dan was die uur om. Ons het ter afsluiting, Afrikaners is plesierig gesing en dan huiswaarts gekeer.

As die weer sleg was, het die neef ons ouers gebel en uitgestel. As die son warm was, het die neef ook ons ouers gebel, om ons te herhinder om ons laphoedjies saam te bring. Ironies, met ons hare wat daardie tyd nog vol was, sit ons in die sonnetjie en luister na neef wat so sonder laphoed, insette in ons lewe lewer, terwyl sy eie hare, hom met 'n kolletjie gelaat het waar die son homself rooi gepiets het. Ons het altyd daaraan verkneukel. maar ewe sedig, nooit die vermaaklike daarvan, met neef gedeel nie.

Maar, nadat ons klaar Afrikaners is plesierig gesing het, en van ons wat in dieselfde rigting woon, so saam-saam huis toe gestap, en tog, ons tong in die kies oomblikke oor neef se rooi kolletjie gehad.

Goeie, onskuldige kultuur-tydverdryf, die Voortrekkers.

As die weer nie goed was nie, kon Voortrekkers uitgestel word. Maar nooit, ooit, het ons die samesyn van gelowiges, uitgestel oor weer of anige ander rede nie. Nooit het ons Jesus se opdrag om nie die onderlinge byeenkomste te versuim nie, geminäg nie. One het geweet (en weet steeds), Wie die Hoogste Gesag is. Daarom, was ons baie meer dikels, baie ruimer geseën, as wat selfs vandag die geval is.


Ons het die onderlinge byeenkomste gerespekteer, en met vreugde, hierdie opdrag deel van ons bestaan gemaak. Ons het na Vader verlang. Ons het het gegaan want ons wou Sy Woord indrink. Ons wou weet wat Sy wil vir ons lewens is. Hy was (en is steeds), getrou. Hy het ons gereeld aangeraak met guns wat ons verstom gelaat het. Ons was so bederf, dat ons hierdie guns, alte dikwels as vanselfsprekend begin aanvaar het. Tog, as ons op hierdie punt van aanvaarding gekom het, het Hy op liefdevolle, maar ferm manier vermaan on terug te keer. En ons het, want ons het Sy stem herken, en Hom geëer vir sy omgee, dat Hy ons eerder vermaan, as straf.

En eendag toe ontsnap die president se troetel-kroonprins-virussie uit sy hok. Piepklein ou nietige dingetjie. En net voor president vies raak omdat hy nou sy vergrootglas moet nadertrek om sy troeteldiertjie te gaan soek, kry hy 'n magsbehepte oomblik van troebelheid, en besluit om sy virussie bietjie langer buite te los. Die verskoning, as hy nou die media kan intimideer deur vir hulle te vertel dat sy Shiwawa, eintlik 'n Rotweiler is wat die volk wil opvreet. En hulle val sowaar daarvoor. Pens en pootjies.

Noudat ek hierbo die agtergrond gepleonastiseer het, tog, sonder om die lemmetjie in die subteks sagter te slyp, nooi ek elke leser wat eerlik en dapper genoeg is, om verder te lees, en saam te stem. Om sonder vrees vir wat die buurman, die dominee, die VLU of die KKNK, hierdie waarnemings ook hulle eie te maak.

Hierdie Boer, sing nie vandag Afrikaners is plesierig, soos die Voortrekkers nie. Want hy is nie plesierig nie. Hy sien hoe die Kerk, as liggaam van Christus, onder mekaar twis. Maar vir die doeleindes van vandag, dit tersyde. Hy sien hoe die Kerk, as liggaam van Christus, hulle eie liggaam verwoes. Hoedat dié, wat vanuit die on-liggaam van Christus, die Liggaam vervlak tot blote kultuur-aktiwiteit, tot iets wat deur magsbehepte mensies, tot minder, as hulle eie selfbeeldprobleem gereduseer word. En as lucifer dan hierdie mensies se swak selfbeeld misbruik en hulle magsbeheptheid misbruik deur die Liggaam van Christus te minag, en selfs as ongewens te verklaar, manifesteer 'n heilige woede.

Dan sluip 'n selfaangestelde afvaardiging van die Liggaam so suutjies en sorrie-askies na die owerhede en vra menslike toestemming om te doen wat Jesus ons opdrag gegee het om te doen. Nie blote toestemming, maar as ons Verlosser, opdrag. En afvaardiging belowe so ewe suutjies-poep en sorrie-askies, om elke ou reëltjie tot op die letter na te kom. Selfs al sou reëltjie sê lofprysing is gevaarlik. Dan sal ons maar nie lofprys nie. En die reëltjie verban die Bybel, die Woord van die lewende almagtige God, uit die kerk uit. Dan sal ons maar sonder die Bybel. En moet asseblief nie groepeer nie, selfs al is dit om te bid. En die afvaardiging stel maar so ewe in. Ons sal maar nie vir mekaar bid nie. En, moet asseblief nie nagmaal hou nie. Ons vrees vir 'n menslike goggatjie is groter as die wete dat in Jesus bloed, ons veilig is... Moet nie langer as 'n uur voor Vader versamel nie. En as die Heilige Gees inspireer en opdrag gee om meer as 'n uur te lofprys, te nagmaal en saam te kniel, 'n saambid-knuffje te gee of iemand se trane op ons skouer moet laat val, is Hy skielik buite orde.

Basta hierdie Godslaster. Hoe kan ons 'n treurende troos, as ons nie 'n skouer kan aanbied nie. Hoe kan ons lofprys, as ons nie veronderstel is om lofliedere Hemelwaarts te stuur nie. Hoe kan ons as swakke mens, versterk word deur die nagmaal, as dit 'n skadelik praktyk sou wees. Hoe kan iemand wat pas tot wedergeboorte gekom het, 'n doop geweier het net omdat menslike vooroordele sy deurbraak na die ewige lewe, geringskat?

En dan sal broer voorsitter van die ordekommitee so ewe vermanend aan die sosiale protestante soos ekself en baie ander wat Vader se almag ken en al ervaar het, 'n woord van orde probeer rig omdat ons die menslike uitsprake wat om ongeloof geskoei is, sien vir die blatante Godslaster wat dit is.

Ons mag nie dat vrees wat deur intimidasie deur beperkte menslike denke, ons weerhou om die onderlinge byeenkomste te versuim nie. Ons mag nie die beskermende krag wat in die bloed van Jesus is, ontken nie. En ons mag veral nie ewe apologeties, nou skielik die grootste Waarheid, reduseer tot 'n bote kultuur-aktiwiteit nie.

Om gehoorsaam aan Vader self te wees, is nie 'n kultuurspeletjie soos die Voortrekkers nie. Hierdie Afrikaner, is beslis nie vandag plesierig nie.

Of ek en jy met wyle Oom Jaap Marais se standpunte saamstem of nie, is nie van belang nie. Maar een baie wyse ding wat hy gereeld gesê het, was, "Kies nou, kies reg".

Gaan jy vandag vir Vader Yahwe kies, of ewe appologeties en abdikerend as Koningskind, teen Hom kies? Gaan jy Hom dien volgens Sy voorskrifte, of gaan jy Hom verkleineer deur binne die norme van sekulêre vooroordele, Hom te reduseer tot 'n stokperdjie?

Gaan jy in vrees vir die paniek wat die media saai, kies om nie die beskerming van Jesus Bloed jou eie te maak nie, of gaan jy kies om ook in jou openbare optrede, jou belydenis uit te leef, en so hoop te saai vir soekendes?

Kies nou, kies reg.

Sela


O goedheid God’s hier nooit volprese,
wie word daardeur nie diep getref,
hoe snood ondankbaar is die wese
wat nie sy hart tot U verhef,
aan U alleen sy dank en ere,
laat dit my lus my lied hier bly,
Vergeet my siel dan nooit die Here,
want nooit vergeet die Here my!


© Stof 2020/04/22

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking